Thursday, 12 February 2015

My kind het Kraniostenose... wat nou?

"Mev, jou baba het kraniostenose en sal 'n operasie moet ondergaan." Dit is woorde wat enige Mamma nie wil hoor nie. Maar ek moes dit hoor en ons moes daardeur gaan.

Ons dogtertjie, Karlien, is in September 2012 gebore. In die Desembermaand daarna het ons agtergekom dat haar kop 'n knop vorm na die linkerkant toe. Ek het haar in Januarie 2013 gevat vir inspuitings en die verpleegster het vir my gesê, daar is niks verkeerd nie, sy slaap te veel op die een kant. Toe raak dit al hoe erger en ek het toe vir my rug na 'n chiropraktisyn gegaan, sy het toe sommer na Karlien gekyk en gesê ek moet haar vinnig by 'n pediater kry. Ons het gelukkig die volgende week 'n afpraak gehad vir haar 6 maande ondersoek. By die pediater gekom het hy gekyk en ons gestuur vir 'n CT-scan. Die CT-scan se uitslae het gewys daar is twee natoe toe en drukking op haar brein en ons moes na 'n neurochirurg gaan.

Die neurochirurg het gesê hy moet opereer. Daar was twee van die nate van haar kop toe. Die middelste een bo en die regterkantse een voor. Die ogies was ook reeds nie meer inlyn nie. Die dr het verduidelik dat hy gaan been uithaal waar die nate toe is, en die hele voorkop gaan moet herkonstrueer en die ogies meer inlyn skuif. Die operasie is toe geskeduleer vir 'n maand later, sy was toe 7 maande oud.

Die dr het ook verduidelik dat die kinders wat sulke operasies ondergaan hulle hele lyfie se hoeveelheid bloed kan verloor. Daarom moes ons sorg dat sy 'n eenheid bloed het. Ons het toe besluit dat my skoonpa die bloed vir haar sou skenk omdat hy gereeld skenk, en dieselfde bloedgroep is.

Sy was vir 4 ure in die teater. Sy was ook daarna 4 aande in die pediatriese-intensiewesorgeenheid. Haar ogies was die eerste dag heeltemal toe geswel. Dit het stadigaan oopgegaan. Die een ogie wat geskuif moes word was die meeste geswel. Ons was baie gelukkig, Karlien het geen infeksie gehad nie. Ek en sy het toe een aand in die kindersaal-geslaap waar ons gewag het vir haar hoedjie wat sy moes kry en dra. Die hoedjie was om die kop te beskerm en die groei te manipuleer.

Karlien moes die hoedjie vir 6 weke dra. Ons het daarna haar gereeld by die dr gehad vir ondersoeke en hy was elke keer tevrede. Karlien is nou 2 jaar en 5 maande oud en vir ons 'n groot vreugde.

Dit was nie as Mamma vir my 'n maklike tyd gewees nie. Mens wonder hoekom dit met jou kind moet gebeur. Ek onthou ek het gedink hulle gaan my mooi dogtertjie se kop sny en dan gaan haar koppie lelik wees.

Hulle het haar haartjies afgesny en die snymerk was nie vir my mooi nie. Daar was 36 steke op haar kop. Maar nou is haar haartjies weer baie mooi toe gegroei en die snymerk is regtig 'n fyn strepie. 'n Mens moet mooi kyk om hom te sien. Haar voorkoppie is ook nie heeltemal gelyk nie, maar as ek dit nie vir jou sê nie sal jy dit nie sommer self raaksien nie.

Die een ander vraag wat ek gehad het was of die operasie regtig nodig is? Maar op die CT-scan kon mens duidelik sien dat daar drukking op haar brein was. Die drukking op die brein is die groot rede vir die operasie. Daar kan allerhande goed verkeerd gaan as mens nie die drukking op die brein verlig nie. Ek weet van 'n geval waar so 'n kind dood is, en 'n ander een het die ouers baie laat uitgevind en die kind het ernstige leerprobleme. Ek het ook gehoor dat dit afhang van die kant van die drukking op die brein dat die kinders kan, doof of blind, ook word.

Ek is baie dankbaar vir die dokters en verpleegsters wat deel was van haar operasie en dat dit 'n sukses is. Ons het mense gehad wat regoor die wêreld saam met ons vir haar gebid het. Daar is nou nog van die mense wat ek nie eers ken nie wat gereeld vra hoe dit met haar gaan.

Ek deel hierdie storie met julle as 'n Mamma wat self daardeur gegaan het. En ek wil hê die Mamma's wat daardeur moet gaan, moet asb onthou dat elke situasie anders is en elke kind anders reageer. Ek deel met julle waardeur ek gegaan het en hoe Karlien gereageer het.

Stuur gerus vir my vrae as jy meer wil weet. Ek deel graag my ervaring want ek het niemand geken voor Karlien se operasie vir wie ek kon vrae vra nie.